Useful Articles

1 Second

News, Accident, Robberies & Incidents

Current Time: 09:25:23am
Date: 2018-08-19


Die Laksman lig Samantha in nog bloed gaan vloei

10 Aug 2018, 9:30 pm

8 dae gelede
Die Laksman lig Samantha in nog bloed gaan vloei
Deur  Oom SonnieVrydag, Augustus 10, 2018 19:30

HAAI, Sonlanders! Wat ’n klomp drama! Die flambojante politikus Justin Louw vier nog so lekker sy vryheid, toe slaan ’n geheimsinnige man toe en stuur hom bokveld toe. Dié man wat na homself as Die Laksman verwys, bel ’n journo, Samantha Julies, en vertel haar van die moord. Hy noem ook dat dit nie die laaste voorval sal wees waar hy die reg in eie hande neem nie. Samantha haas haar na die moordtoneel in die hoop dat sy haar eerste voorbladstorie gaan losslaan. Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON­ se Die Laksman.

SAMANTHA herken kaptein FC van Dyk al van ver af.

Toe sy by die polisiewoordvoerder kom, gryp hy die KFC uit haar hand.

“Meisietjie, jy moenie so lank draai as jy sê jy gaan nou hier wees nie,” sê die polisieman met ’n breë smile.

Samantha merk verlig op dat haar fotograaf, Jonathan Lambada, ook al kliphard besig is om foto’s buite die huis te neem.

“So, wat het hier gebeur, kaptein?” vra Samantha. “Is die moord op Justin Louw uit weerwraak oor hy onskuldig bevind is op die verkragtingsklagte teen hom?”

Samantha slaan haar notaboekie oop.

“Dis nie nodig om so haastig te wees nie, meisiekind,” sê kaptein FC van Dyk al kouend. “Soos jy kan sien, is ons forensiese span nog binne die huis besig. So, ek wag ook nog op inligting voordat ek iets ampteliks aanmekaar kan slaan.

“In hierdie stadium kan ons nie bespiegel oor die motief vir die aanval nie.

“En soos jy behoort te weet, kan die naam van die oorledene ook nog nie bekend gemaak word nie omdat sy naasbestaandes in kennis gestel moet word.”

Samantha frons. “Maar soos ek dit verstaan, was sy vrou en kinders dan tydens die voorval in die huis.

“Dan kan sy naam mos bekend gemaak word, of hoe?”

Kaptein FC van Dyk wil albei sy hande in die lug gooi, maar besef betyds dat hy sodoende sy KFC sal laat val.

“Maar hoekom moet jy jou dan nou so slim wil kom staan en hou, meisiekind?” vra hy en sug.

“Ek is nie by magte om enige sulke informasie bekend te maak nie.”

“Maar kaptein is by magte om my KFC op te eet?” vra Samantha astrant.

Van Dyk bars uit van die lag. “Jy moes ’n prokureur geword het, meisiekind. Maar kom ons kyk wat gebeur. Die aand is nog jonk.”

“Maar ek het ’n deadline. My nagredakteur wag,” protesteer Samantha.

Van Dyk trek sy skouers op. “ ’n Deadline gaan nooit dood nie,” sê hy.

Samantha kan nie anders as om vir die polisiewoordvoerder se kwinkslae te glimlag nie.

Van al die polisiewoordvoerders is Van Dyk haar gunsteling. Toe sy die heel eerste keer op ’n moordtoneel aangekom het, het Van Dyk na haar toe aangekom en gesê: “Nee, jislaik, meisiekind, hoekom is jy dan so maer?

“Ons sal jou meer moet laat eet, anders gaan die Kaapse Dokter jou wegwaai. En dan sal die polisie ’n missing persons docket moet open.”

Samantha kyk na hoe haar fotograaf, Jonathan Lambada, se Rasta-lokke in die wind waai. Dan wink sy hom nader.

“Hoe lyk ons foto’s?” vra sy toe hy langs haar kom staan.

Lambada trek sy skouers op. “Nog nie veel nie,” sê hy. “Ons sal seker maar moet wag vir die morgue van om te kom.”

Dan nael hy weg om ’n foto te neem as een van die forensiese lede met ’n voorwerp uit die huis gestap kom.

Samantha draai weer na Van Dyk.

“Wat weet kaptein van die man wat homself Die Laksman noem?”

Die polisiewoordvoerder hou op kou en gaap haar aan.

Dan, ná ’n ruk, sê hy: “Die doodstraf is mos al lankal afgeskaf. So, ons het nie meer laksmanne in die land nie.”

“O, hoekom moet kaptein my lewe so moeilik maak?” sê Samantha­ dramaties en rol haar oë.

“Meisiekind, die lewe is nie so moeilik soos wiskunde nie,” sê Van Wyk en vat weer ’n hap van sy hoender.

Samantha laat haar nie deur die polisiewoordvoerder se reaksie onderkry nie. Sy sê: “Hy het my gebel.

“Hy het my gebel en gesê hy het Justin Louw geskiet.

“En ook het hy gesê dat dit nie die laaste keer sal wees dat hy die reg in eie hande gaan neem nie.”

Van Dyk frommel die KFC-kardoespapier met mening op en vee sy mond met die agterkant van sy hand af.

“As ek jou off the record iets kan sê, is dat jy baie versigtig vir hierdie sogenaamde laksman moet wees,” waarsku hy.

“Wie sê buitendien vir jou dat dit nie ’n prankster was nie?”

Samantha knipoog vir hom. “As dit ’n prank was, het ek en u mos nie nou hier gestaan en koud kry nie, of hoe?”

Van Dyk trek sy skouers op. “Julle kinders van vandag is gans te slim,” gooi hy die handdoek in.

Dan gewaar hy een van die speurders wat aan die saak werk.

“Laat ek ’n bietjie gaan uitvind wat aangaan,” sê hy haastig. “Voor jy my hier onder kruisondervraging neem.”

Samantha verbaas haar oor die polisiewoordvoerder se vlugvoetigheid en die spoed waarmee hy na die speurder stap. Dis eintlik KFC wat ’n mens wings gee, dink sy. En seker hoëbloed en cholesterol ook. Dan lui haar selfoon. Haar nagredakteur. Sy verduidelik aan hom kortliks watter info sy op die oomblik het.

Na aanleiding van sy ge-oe en ge-a lei sy af dat hy besig is om notas te maak. Dan blaf hy bevele dat Jonathan Lambada so gou moontlik foto’s per e-pos aan hom moet stuur en beëindig die oproep sonder om koebaai te sê.

Samantha wil net die selfoon terug in haar jeans se sak druk toe dit weer lui.

“En het jy dit darem tot by die toneel gemaak?” vra die skor stem van vroeër die aand. Sy herken dit onmiddellik as dié van die laksman.

“Ja,” antwoord Samantha. “Maar jy is dan nie hier nie.”

Die man gee ’n vreugdelose laggie. “Dis altyd nice om ’n sin vir humor in jou bedryf te hê,” sê hy.

“Maar soos jy kan sien, is hierdie nie lagsake nie. Justin Louw het nie alleen opgetree nie. Hy is een van ’n siek klomp etters wat op jong meisies teer. En môreaand hierdie tyd gaan die tweede skurk les opsê.”

Dan beëindig hy die oproep. Samantha skakel met bewende vingers haar nagredakteur se nommer. Dinge gaan nog lelik uitrafel, dink sy paniekerig maar ook opgewonde...

  • Lees Maandag verder

Gewildste

Share with friends

  • « Previous
  • |
  • Next »