Useful Articles

1 Second

News, Accident, Robberies & Incidents

Current Time: 05:04:24pm
Date: 2018-09-23


Liza sien ’n ander kant van Jack wat haar bang maak

14 Mar 2018, 6:00 pm

6 maande gelede
Liza sien ’n ander kant van Jack wat haar bang maak
Deur  Oom SonnieWoensdag, Maart 14, 2018 16:00

HAAI, Sonlanders! Jack is ’n siener. Maar mense sien hom maar eintlik die meeste van die tyd uithang in sy gunsteling-pub. Een aand daag ’n pragtige meisie op en sê sy het Jack se hulp nodig. Haar sussie is weg en sy gaan nie nee vir ’n antwoord vat nie. Jack stem traag in om haar te help. Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se Man van Sien.

JACK skrik die volgende oggend wakker met ’n babelas wat skrik vir niks.

Nog winddronk en diep deur die blare staan hy op en strompel badkamer toe.

Hy leun swaar teen die wasbakkie en toe sy oog die tandepasta vang, stoot ’n naarheid in hom op.

Hy wil opgooi, maar daar is niks in sy maag nie. Hy weet nie of hy kom of gaan nie. Of hy wil nommer een, of nommer twee nie...

Dit gebeur nou as jy nie ’n lining insit nie, dink hy met betraande oë.

“Wat, het jy dan ’n Enterprise- worsie geëet?”

Jack wip van die skrik en swaai vinnig om.

Liza staan met haar arms gevou en staar hom geamuseerd aan.

Sy het een van sy ou langmou- hemde aan.

“Wat … wat maak jy hier?” vra Jack en vryf oor sy stoppelbaard.

Sleeper couch

Drink-blackouts en hy is bloed­familie van mekaar.

Hy kan nie onthou dat Liza saam met hom huis toe gekom het nie.

Hel, hy kan skaars onthou hóé hy by die huis gekom het.

Liza lag. “Jy het so vinnig badkamer toe gestorm dat jy my nie eens sien slaap het op die sleeper couch nie.

“Ek neem aan jy is diep siek vanoggend?”

Jack knik.

“Dan sal ek vir ons ontbyt moet maak,” sê Liza vrolik. “Ek hoop nie jy het polony en sulke goeters in jou yskas nie.”

Sy vlieg op voordat Jack haar kan antwoord.

Hy staar haar agterna en vryf oor sy oë.

Die geluide van kaste wat oop- en toegemaak word, klink uit die kombuis op.

Jack sug, skraap al sy moed bymekaar en gryp die tandepasta.

Maak nie saak hoe naar dit hom nou gaan maak nie, hy kan nie hier met ’n stink bek rondloop met so ’n mooi nooi in die omtes nie.

Wonder bo wonder bly die naarheid weg en Jack hoef darem nie te vrees dat hy sy ingewande uit gaan malmok nie.

Dan slaan die geure van spek en eiers hom en dié keer kom sy ingewande na vore met goed wat hy nie eens kan onthou wanneer laas hy dit geëet het nie...

“Jy lyk soos iemand wat ’n spook gesien het,” sê Liza en vat ’n hap van haar toast.

“Kom sit, kom sit. En jammer as dit lyk of ek jou plek oorgevat het, maar as ek eers aan die gang gekom het, is daar g’n keer aan my nie.”

Jack stap versigtig nader. Hy voel nog bewerig en trust nie sy bene nie.

“Ek ... ek ...” sê hy en maak sy keel skoon wat nog rou en sensitief voel.

“Ek gaan vir eers net ’n bietjie koffie drink,” sê hy dan.

“H’mmm, jy was omtrent die dier gisteraand,” sê Liza laggend.

Jack voel hoe hy vanuit sy nek bloedrooi raak.

“Ek bedoel natuurlik partytjiedier,” sê Liza.

As sy Jack se ongemak bespeur het, steek sy dit baie goed weg.

“Ek onthou nie veel van gisteraand nie,” sê Jack en grinnik verleë.

“Maar my lyf is vanoggend so seer, ek kan sweer die drank het vuiste.”

Liza giggel. “Of miskien is dit oor jy heelaand alleen ge-karaoke het en niemand anders oor die mic wou laat sing nie,” sê Liza.

Ek sou nie mind as jy oor mý mic gesing het nie, dink Jack.

Maar hy durf nie dié gedagte van hom hardop uiter nie.

Netnou word hy aangekla van die besoedeling van ’n plattelander se gedagtes.

“So, jy is ’n siener?” vra Liza en smeer botter op nog ’n snytjie toast.

Jack knik en vat ’n sluk van sy koffie. Hy trek sy gesig toe sy maag ’n paar krampe gee.

“ ’n Mens kan nie van drank alleen leef nie,” sê Liza.

Jack trek sy skouers op. “ ’n Mens kan altyd probeer,” merk hy droog op.

“Nou, hoe het dit gekom dat jy hierdie gawe het?” vra Liza.

Jack staar lank na voor hom uit. ’n Oomblik wonder Liza of hy haar vraag gehoor het.

Maar dan hardloop ’n rilling langs haar rug af as sy in Jack se oë kyk.

Daar is ’n grys, grou en ietwat van ’n bloederige skynsel in sy oë.

Haar vel slaan hoendervleis uit.

“Ek kan baie meer doen as net sien,” sê Jack in ’n stem wat haar benoud laat voel.

Dit is iets soos ’n hol klank wat teen haar oortromme eggo.

“Ek het dit lank gesien as ’n curse, eerder as ’n gawe.

“Van kleins af die mense gesien wat so sweef bo die grond en saans as almal geslaap het, vir my kom kuier het. Ek was saans skytbang om bed toe te gaan, want nie almal van hulle wat so vir my kom kuier het, was nice nie.

“Sommige was so boos dat die vuur by hul neuse gespat het.

“Maar toe sê my ma my ek hoef nie bang te wees vir mense wat dood is nie. Ek moet eerder bang wees vir mense wat nog lewe.”

Liza blaas saggies haar asem van verligting uit toe Jack se oë na sy normale bruin kleur terugkeer.

Hy knip ’n paar keer sy oë en vat dan weer ’n sluk van sy nou half-lou koffie.

“Het ek jou bang gemaak?” vra hy vir Liza.

“Op skool het die kinders gesê ek is ’n freak en die duiwel het die dag van my geboorte die bevalling waargeneem.

Oorweldigend

“Mense het nie hul kinders met my laat speel nie.

“En ek het ook maar my mond gehou en nie vir hulle gesê ek kan al hul begrafnisse sien nie.”

“Ek bang jou nie. I bang you not,” sê Liza en knipoog vir hom.

“Dit was net ... dit was oorweldigend om te aanskou.

“Ek het nog nooit so iets beleef nie. Dit was asof jy hier was, maar vanuit ’n ander dimensie met my gepraat het.

“Hoe ... hoe kry jy dit reg? Hoe ... hoe leef ’n mens so tussen die lewe en die dood?”

Jack gee ’n skalkse glimlaggie. “Niemand het dit al ooit só vir my gestel nie,” sê hy en kom orent.

“Ek vermoed hierdie koffie gaan my nog voor die drank doodmaak.

“So, as jy nie omgee nie, gaan ek nou ’n minute shower vat, en dan moet jy my alles van jou suster vertel.”

“Ek dog jy kan reeds alles sien,” sê Liza iewat teleurgesteld.

“Dink jy regtig ek kan alles sien soos die Son?” vra Jack en stap laggend die gang af.

En Liza kan nie anders as om te wonder of Jack nie net maar ’n baie goeie fake is nie ...

  • Lees môre verder

Gewildste

Share with friends

  • « Previous
  • |
  • Next »