Useful Articles

1 Second

News, Accident, Robberies & Incidents

Current Time: 09:25:29am
Date: 2018-08-19


Curwin op Bok-ashoop

10 Aug 2018, 5:30 pm

8 dae gelede
Curwin op Bok-ashoop
Deur  sportredaksieVrydag, Augustus 10, 2018 15:30
Curwin Bosch moet maar hard werk om weer ’n Springbok te word. Foto:gallo images  ~ 

MEER as ’n jaar gelede sou die insluiting van Curwin Bosch in die Springbokspan as nie onderhandelbaar nie beskryf word.

Dié vonds van Suid-Afrikaanse rugby se 2017-Superrugby-veldtog kon nie ’n voet verkeerd sit nie.

As die voorkeur-losskakel vir Robert du Preez (afrigter) se Shark-span, het die 21-jarige boorling van Alexandria – in die Oos-Kaap – die tweede meeste punte in sy debuutseisoen aangeteken.

Net die Lions se Elton Jantjies – met 197 punte – kon Bosch (151) troef.

Ná ’n tweede o. 20-Wêreldtoernooi saam met die Junior Springbokke is Bosch vir die Springbokke se veldtog in die Rugbykampioenskap gekies.

In die ouderdom van 20 het hy in Port Elizabeth – voor vriende en familie – sy buiging in Allister Coetzee se Bokke se sege oor Argentinië gemaak.

Hy het ook verlede jaar die Sharks gehelp om ’n tuiseindstryd in die Curriebeker te bespreek.

Ongelukkig is die Oos-Kapenaar se groot swakheid (verdediging) in die eindstryd blootgelê.

Die Westelike Provinsie het die Sharks in Durban geklop, met Bosch wat as die rede vir die nederlaag gebrandmerk is.

Sommige kenners – onder andere die omstrede Nick Mallett – het geglo Bosch moet na die Springbok- sewesrugbyspan gestuur word waar aan sy verdediging gewerk kan word.

Du Preez het egter besluit om Bosch vanjaar op heelagter by die Sharks in te span.

Sy seun, Robert jr., word deesdae as die Sharks se voorkeur-losskakel beskou.

Al het Bosch nie ’n swak Superrugby-seisoen beleef nie, is hy deur Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, vir vanjaar se Rugbykampioenskap misgekyk.

Lwazi Mvovo, wat meerendeels as ’n vleuel deur die Sharks gebruik is, word nou deur Erasmus as ’n beter heelagter-opsie as Bosch, Dillyn Leyds (Stormers) en Ruan Combrinck (Lions) beskou­.

Dit lyk ook nie of Bosch sommer gou weer deur Du Preez as losskakel ingespan sal word nie. Sy seun het immers ook nie die Bokke se groep vir die Rugbykampioenskap gehaal nie.

En as die Bokke beseringsloos sou bly, is die kanse ook skraal dat Du Preez jr. na die nasionale span opgeroep sal word.

Intussen is die Blitsbokke besig om talent voor die afskop tot die nuwe seisoen te verloor.

Bosch kan dus ’n welkome aanwins vir die eerste vier skofte van die Wêreldreeks-seisoen wees.

Gewildste

Share with friends

  • « Previous
  • |
  • Next »